Skip to content
Hortgro Janlr

Jan le Roux – Bedryfsleier 2018

Jan le Roux van die Le Roux-Groep, het vanjaar die O.S.H. Reinecke-trofee as Bedryfsleier van die Jaar ontvang vir sy leierskaprol in die sagtevrugtebedryf wat oor ’n tydperk van 30 jaar strek. In dié tyd het hy op verskeie komitees en rade gedien en speel ‘n belangrike rol tydens die deregulering van landbou in die laat negentigs. Hy neem ook in 1994 die voortou met sy siening oor swart bemagtiging in die landbou.

Elise-Marie Steenkamp gesels met hom.

Deciduous Fruit Gala Evening Awards 2018 Jan Le Roux
Jan le Roux ontvang sy prys van Anton Rabe, Hortgro se Uitvoerende Direkteur.

Hy sukkel om die deur by sy nuwe huis – die aftreehuis op Voëlklip, Hermanus – oop te maak.

“Alles is nog deurmekaar ons het ‘n paar weke gelede ingetrek,” maak hy onnodig verskoning, terwyl ons deur die netjiese huis stap.

Hy vertel met die instrapslag van die bobbejane wat so vernielsugtig is, sy veelbesproke bure (Markus Jooste) verder af in die straat en in die sitkamer wys hy die walvisse wat net agter die breekwater in die branders baljaar. Alles binne die eerste vyf minute.

Jan le Roux speel nie. Produktiwiteit is sy middelnaam. Sy selfoon word afgeskakel vir die presiese duur van die onderhoud.

“Ek is ‘n werkholis en ‘n perfeksionis en soms meng die twee nie so lekker nie.”

Die lang man met die snor en x-straal oë, is die sagtevrugtebedryf se leier van die jaar.

Sy reis deur die sagtevrugtebedryf strek oor dertig jaar, maar sy landbouwortels lê diep tot by sy voorvader wat Mooikelder Landgoed buite Paarl in 1913 gekoop het. Histories ‘n wynplaas. “Die ou mense het altyd gesê ons ontmoet mekaar by ‘de mooi kelder’, en so het die plaas sy naam gekry.”

In 1989 na ‘n suksesvolle loopbaan in die kleinhandel, neem hy Mooikelder oor nadat hy reeds in 1981 ‘n gedeelte daarvan, nl Joubertsdal, uit die boedel van sy pa gekoop het. Die twee plase word as een entiteit bestuur met uitvoertafeldruiwe as produksiefokus.

Vra mens hom oor die begrip leierskap gaan haal hy eers sy antwoord by ‘n storie oor sy pa wat gereeld kaart gespeel het met sy vriende; voordat hy die definisie kort en bondig gee: eerbaarheid en beginsels – soos net ‘n ouditeur kan.

Jan le Roux is ‘n opgeleide geoktrooieerde rekenmeester, net soos sy berugte buurman, en was vir baie jare die Besturende Direkteur van Pepkor, maar hy is ook ‘n natuurlike storieverteller en in gesprek val die gesegdes en staaltjies die een na die ander uit sy mond. “Geld beïndruk hom nie, mense wel.” En, “jy kan nie net oes nie, jy moet plant ook.”

Hy is ‘n plaaskind en Paarliet in murg in been. By Noord-Eind-Paarl skoolgegaan toe daar nog net ‘n handvol kinders in elke graad was. Hoërskool was in Paarl Gim – met ‘n totaal van 71 kinders in sy matriekjaar. Le Roux het groot begrip vir die probleme waarmee Suid-Afrikaanse landbou te kampe het. Ook groot begrip vir die lewenswaardige bestaan wat landbouwerkers toekom. Vir Jan le Roux lê boerdery, sosiale verantwoordelikheid en die skep van werksgeleenthede langs mekaar in die kooi.

En dit is geen sakemanpraatjies nie. Le Roux neem reeds in 1994 die voortou op die gebied van swartbemagtiging in die landbou deur klem te lê op volhoubare werkskepping wat finansieël sin maak. Koringplase buite Wellington en Piketberg word aangekoop en in suksesvolle steenvrug- en tafeldruif-plase omskep, so word ook ‘n koelkamer en verpakkingsfasiliteite aangebou wat 24 uur operasioneel is. In 2004 word ‘n verdere mylpaal bereik toe 32% van Broodkraal Landgoed se aandele aan die Werkerstrust gegee word. Die voorheen benadeelde werkers van die Le Roux Groep is almal begunstigdes van die trust. Die Le Roux Groep bied tans werk aan meer as 4 000 permanente en seisonale werkers.

“Ek wil net sê, mense moenie skaam wees om vir iemand anders te werk nie. Veral in landbou is daar die geneigdheid om te dink jy is net baas as jy jou eie plaas het. Die meeste mense werk vir iemand anders. “Ek het my hele sake loopbaan gewerk vir ‘n besigheid waarvan ek nie die eienaar was nie, maar ek het daar gewerk asof dit my eie besigheid was. En dit is geen skande nie. Selfs dié wat baas is, het ‘n baas. Vra maar vir enige getroude man…”

Die gesprek draai noodwendig na die kwellende kwessies waarmee georganiseerde landbou tans in Suid-Afrika stoei. “Die kern van ons probleem is vertroue. En dit kom al ‘n lang pad. Daar is ook baie onkunde en ‘n wanbegrip oor die vrugtebedryf. Langenhoven het gesê ‘as mense net praat oor sake waarvan hulle iets weet nie, sou dit ‘n baie stil wêreld gewees het’.”

Hy meen dat kundigheid oor die vrugtebedryf in regeringskringe nodig is, anders praat mense by mekaar verby. En dit skep wantroue, want dan weet jy nie of ‘n ou bokdrolletjies as rosyntjies aan jou verkoop nie. Voor jy ‘n opinie oor ‘n bedryf uitspreek, moet jy verstaan waaroor dit gaan. Dit is tog ‘n basiese beginsel van die sakewêreld, meen hy.

Le Roux wens die regering wil dit makliker maak vir entrepreneurs om besighede van die grond af te kry. “Daar is net soveel hoepels waardeur mens moet spring. Ons wil die ekonomie groei en werksgeleentheid skep, maar word die heeltyd gekniehalter.”

Dan weer pragmaties, “daar is egter nie verskonings in die lewe nie,” sê hy. “Moenie terugsit en wag dat iets beter gaan word, of dat iemand anders iets vir jou gaan doen nie. Gaan uit en doen dit self. Jy kan nie ander mense beheer nie, net jouself. Be in charge of your own destiny.”

En sy siening oor ‘n gesonde besigheid?

“Alles gaan oor beleid en beginsels wat die toets kan deurstaan. Dit is jou vertrekpunt en die fondamente waarop jy bou. Want as dit sleg gaan of daar probleme is, dan is dit jou beleid en beginsels waarop jy terugval. Dit is jou vangnet. En mense wat vir jou werk, moet hierdie waardes en protokol onderskryf, anders gaan hulle nie in jou besigheid werk nie.” Hy het ‘n kleintjie dood aan mense wat geleentheids-beginsels toepas en kreatief met die waarheid omgaan soos elke moment homself voordoen.

Nog ‘n pêreltjie – “tyd is geld” – die wêreld beweeg so vinnig vorentoe en as jy nie bybly nie het jy ‘n probleem, sê hy.

“Daarom is dit belangrik om die regte mense vir jou besigheid te kry.”

En, landbou is by uitstek ‘n mense bedryf.

“Ek dink ek kan mense nogal goed opsom,” sê hy. “Ek kyk mense goed deur voor ek hulle aanstel, maar ek het al foute gemaak hoor. Ek soek sekere kwaliteite en probeer altyd die beste mense wat ek kan kry, aanstel. Ek gee leiding en opdragte, maar daarna moet hulle aangaan met hul werk. Ek is nie ‘n oor-die-skouer-loer tipe nie. En in my ervaring is dit die beste manier om mense te bestuur.”

Maar mens moet altyd begrip vir jou medemens hê. Hy haal ‘Tannie Grové’ aan wat hom geleer het dat mens nie moet probeer om beter as ander te wees nie, maar “die eintlike prestasie van die lewe is as jy vir jouself vandag ‘n beter dag as gister gemaak het.”

Laastens, gevra oor sy gewoonte om net ou voertuie te besit, merk hy op: “omdat ek nog nooit ‘n bankier gesien het wat bereid is om met die pad af te ry met ‘n ou kar wat die bank teruggevat het nie.”

Jan-feite:

  • Jan le Roux word op 12 Junie 1950 gebore.
  • Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en bekwaam homself as ‘n geoktrooieerde rekenmeester in 1974.
  • Hy trou met Nerina en uit die huwelik word ‘n seun en twee dogters gebore.
  • Hy sluit aan by die Pepkor Groep as Finansiële Direkteur en na ‘n baie suksesvolle kleinhandelloopbaan tree hy in 1987 af.
  • Hy gaan terug na die Pepkor Groep en neem die leisels oor as die Besturende Direkteur (Wêreldwyd) van 1997 tot 1999.

Jan se sê-goed:

  • “Kom ons maak ‘n boeresom.” Om ‘n antwoord, gebasseer op beskikbare basiese inligting te vind selfs al het jy nie al die inligting tot jou beskikking nie.
  • “Niks is onmoontlik nie, daar was al mense op die maan.” Die woord kannie bestaan nie.
  • “Kry verstand op die werf.” – Kry die vaardiges om saam met jou te werk.
  • “Checknet.” Gaan alle belangrike aspekte noukeurig na.
  • “Solve a problem by solving it and not by throwing money at it.”
Back To Top