Skip to content
Farmer Controls Drone Sprayer With A Digital Tablet

Landbou in die Wes-Kaap na Covid-19

Watter langtermyn aanpassings is nodig om die toekoms van landbou te verseker? Die Wes-Kaapse Departement van Landbou se 2020 toekomsbeplanningstudie mik om hierdie vraag te beantwoord. Deur Anna Mouton.

Dr Dirk Troskie is verantwoordelik vir beplanning en strategie vir die Wes-Kaapse Departement van Landbou. Hy glo dat landbou die sektor in die ekonomie is wat die meeste ontwrig gaan word deur verandering.

Volgens Troskie is daar drie redes hoekom landbou lyk soos ons dit vandag ken. Eerstens werk landbou met biologiese produkte wat natuurlik neig om te varieer. Tweedens vind landbou in diverse geologiese- en klimaatstoestande plaas. En derdens is boerdery ruimtelik verspreid, wat kontrole probleme skep wat nie in die res van die ekonomie voorkom nie.

“Hierdie faktore beteken dat familieboerderye die essensie van landbouproduksie is tensy jy kan meganiseer,” sê Troskie “Landbou was tradisioneel gedomineer deur klein besighede.”

Die tendens wêreldwyd is egter vir konsolidasie en ’n toenemende rol van tegnologie in landbou. “Die vierde industriële revolusie gaan landbou fundamenteel verander binne die volgende 10–15 jaar,” sê Troskie. “Daarom het die Departement al in 2017 die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool gekontrakteer om vir ons ’n evaluasie te doen van die impak van die vierde industriële revolusie op die landbou van die Wes-Kaap.”

Saam met tegnologiese vooruitgang is daar ongelukkig ook minder positiewe ontwrigters. Troskie noem dat die Departement reeds in 2016 die SmartAgri-plan geloods het om klimaatsverandering aan te spreek. Boonop vind hierdie veranderinge plaas binne die alledaagse realiteite van Suid-Afrika se sosiaal-ekonomiese probleme.

Troskie verduidelik dat sy werk is om heeltyd vrae te vra oor wat daar buite gebeur, en wat die impak daarvan is. Dit dra dan by tot die vyfjaarstrategie wat die Wes-Kaapse Departement van Landbou na elke nasionale verkiesing ontwikkel – ’n proses wat ongeveer ’n jaar neem.

“Ons het ons strategiese plan op 4 Maart 2020 ter tafel gelê,” vertel Troskie, “en op 27 Maart 2020 maak Suid-Afrika toe vir Covid.”

’n Landboudepartement maak ’n plan

Baie mense sou moed verloor as hulle vyfjaarplan skielik op sy kop gedraai word. Nee wat, sê Troskie. “Wat jy moet onthou is dat ons in landbou nie onbekend is met rampe nie. Rampe is deel van ons normale aktiwiteite. Elke jaar het ons droogtes en vloede en vure en hael en voëlgriep en siekte en daai goed.”

Volgens Troskie was die primêre verskil tussen Covid-19 en vorige rampe dat vorige rampe die produksiebasis beïnvloed het, terwyl Covid-19 waardekettings ontwrig het. Aangesien landbou ’n noodsaaklike diens is, het die Departement nog steeds meeste van hulle planne uitgevoer. Maar hulle het ook drie nuwe strategiese projekte geloods, waarvan die eerste een die post-Covid-19 toekomsbeplanningstudie was.

“Ek wou dit aanvanklik nie ’n post-Covid-19 strategie noem nie,” onthou Troskie, “maar vir die volgende 50 jaar gaan ons praat van pre- en post-Covid-19.”

Troskie reken dat ontwrigters soos klimaats- en sosiale verandering versnel het weens Covid-19. “Die basiese vraag is watter aanpassings ons moet maak as ons na die langer termyn – 30 jaar – kyk.”

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het professionele futuris Tanja Hichert gekontrakteer om die toekomsbeplanningstudie uit te voer. Die doel van die begin af was nie om ’n Departementele strategie te ontwikkel nie, maar wel ’n strategie vir die hele Wes-Kaapse landbousektor. Troskie glo dat kommunikasie in die ontwerpfase begin, en het dus van meet af die sektor betrek.

Die toekomsbeplanningstudie het vyf kerntemas wat die toekoms sal vorm geïdentifiseer, naamlik die vierde industriële revolusie, regeringskapasiteit en -ondersteuning, die biosfeer, oordrag van kennis en kundigheid, en veranderinge in markaanvraag en -toegang.

Nadat die studieverslag gelewer is, het die Departement dit gebruik om ’n bestuursontwikkelingsplan op te stel, waarin hulle die aanbevelings evalueer, omskakel in doelwitte, uitlê hoe daardie doelwitte bereik gaan word, en stipuleer hoe hulle die proses gaan kommunikeer.

“Ons is al reeds besig met implementasie,” sê Troskie. Hy noem die voorbeeld van een van die aanbevelings wat voorgestel het dat Afrika as ’n mark ondersteun moet word. Die Departement het ’n tender uitgesit om ’n maatskappy aan te stel om geleenthede in Afrika te ondersoek. “Nie net as ’n mark nie, maar ook wat ons vanaf Afrika kan invoer, en hoe ons kan saam werk op wetenskaplike vlak, of op ander aspekte.”

Benewens groter samewerking met die res van Afrika, is daar vier ander sleutelareas van die implementasieplan, naamlik voorkomende regering, landbouopleiding wat lewenskragtigheid bevorder, bevordering van grootskaalse volhoubare landbou, en die ontplooiing en demokratisering van tegnologie.

Demokratisering van die vierde industriële revolusie

Troskie is opgewonde oor die moontlikhede wat die vierde industriële revolusie vir landbou inhou. Hy lys masjienleer, grootdata, slimsensors, en robotika as die soort tegnologieë wat ’n reuse-impak op landbou gaan hê. Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het al reeds voor die post-Covid-19 toekomsbeplanningstudie tegnologie soos CapeFarmMapper en FruitLook ontwikkel en aan onder andere die sagtevrugtebedryf beskikbaar gemaak.

Sedert die toekomsbeplanningstudie het die Departement veral vordering gemaak met hommeltuie. Troskie verduidelik dat hommeltuie platforms is vir sensors wat ’n magdom toepassings in landbou het. Hy sien uitstekende potensiaal vir die skep van nuwe werksgeleenthede in die veld van hommeltuie, veral vir jong mense. Die Departement het dus begin deur van hulle eie beamptes en Elsenburg studente op te lei om hommeltuiglisensies te kry, en ook hommeltuigwerkswinkels gehou vir belangstellendes in landbou en omgewingsbewaring.

Hommeltuie is geensins die enigste tegnologie wat die Departement bevorder nie. Hulle het ook toerusting geskenk aan die Universiteit van Wes-Kaapland vir gebruik deur nagraadse studente in toegevoegde en virtuele werklikheid. Die studente het daarmee virtuele bemarkingsmateriaal sowel as ’n toepassing vir trekkeronderhoud geskep.

“Ons wou vir daai studente sê, dink ’n bietjie oor landbou en landboutoepassings,” sê Troskie. “Ons wil jong mense in landbou kry, en nuwe werksgeleenthede skep in landboutoepassing wat die sektor meer mededingend maak.”

Troskie beklemtoon dat bestaande plaaswerkers nie agterweë gelaat word nie. “Plaaswerkers is tradisioneel jou mees afgeslote gemeenskap. Hulle bly êrens op ’n plaas en daar is nie noodwendig openbare vervoer nie. So hoe skep jy vir hulle die geleentheid om ten minste ’n selfoon te kan gebruik om byvoorbeeld ’n afspraak te kan maak by die kliniek?”

Die Departement het in samewerking met die Universiteit van Wes-Kaapland ’n e-geletterheidsmodule vir plaaswerkers ontwerp wat hulle hierdie jaar geloods het. Hulle het ook ’n e-handelsmodule geskep wat kleinboere in staat stel om hulle produkte beter te bemark. “Ons moet tegnologie omarm, jong mense geïnteresseerd kry daarin, en dit toeganklik maar vir alle mense,” sê Troskie.

“Wanneer jy van die vierde industriële revolusie praat is een van die grootste reaksies van mense rondom werksgeleenthede. As ons nou begin om hommeltuie en robotte in te bring dan vernietig ons glo werksgeleenthede. Maar ons sê dat ons tegnologie moet gebruik om meer mededingend te raak.”

Troskie waarsku dat tegnologie uitsluit nie ’n opsie is nie, omdat dit Suid-Afrika se mededingendheid negatief sal beïnvloed, wat gewaarborg is om werksgeleenthede uit te wis. Hy sien die verantwoordelike gebruik van tegnologie as ’n manier om Suid-Afrikaanse landbou meer effektief te maak, en daardeur ekonomiese groei, werksgeleenthede en voedselsekuriteit te skep.

 

 

 

Back To Top