Vandag is nie gister nie
Vier bekendes in die bedryf gesels oor verandering – wat leer die afgelope dertig jaar ons oor die toekoms? Deur Anna Mouton.
“Ek kan onthou in my eerste jaar by Fruitways – 1997 – was ek by ’n oes-af funksie gewees. Daai jaar was dit die eerste keer wat Graymead 35 000 kratte appels gepluk het. Nou pluk ons die laaste paar jaar meer as 70 000 kratte appels op dieselfde plaas,” vertel Hein Keulder, hoof uitvoerende beampte van die Fruitways Groep. “So in ’n 20–25 jaar periode het ons produksie verdubbel – basies in een generasie van bome.”
Keulder skryf hierdie vooruitgang aan inkrementele verbetering toe. Hy reken dat goeie boere 25 jaar gelede waarskynlik kunstenaars met groen vingers was, terwyl vandag se beste boere wetenskaplikes met analitiese vermoëns is wat die interaksie tussen grondgesondheid, boomgesondheid, vrugte, klimaat, en die natuur verstaan.
“As ek kyk na die res van ons besigheid – verpakking en bemarking – sien ek presies dieselfde,” sê Keulder. “Inkrementele verbeteringe in tegnologie, mensvaardighede, stelsels en bestuur maak dat dit wat ons vandag doen en dit wat ons 25 jaar terug gedoen het wêrelde verwyder is. Daar is by my geen twyfel dat ons daarsonder as ’n industrie dood sou gewees het nie.”
Volgens Keulder is na-oes vrugtegnologie tans een van die mees gesogte vaardighede in die industrie. “Waar jy in die verlede ’n fabriek bedryf het met min insig en invloed verder af in die ketting, moet jy nou verstaan wat jy met hierdie vrug, wat op hierdie datum, onder hierdie omstandighede gepluk is, oor die volgende twaalf maande kan doen om die kliënt te dien.”
Na-oes wetenskap gaan sonder twyfel vorentoe net meer belangrik raak. Keulder sien markkragte as die sterkste drywer van verandering gedurende die afgelope 20–30 jaar, en glo dit sal in die toekoms voortduur. “Fruitways verkoop vrugte in meer as 70 lande oor vier kontinente – ons produk kom binne bereik van die helfte van die planeet se mense. Markkragte gaan die grootste impak op ons hê omdat ons met die wêreld verbind is.”
Marktoegang en markpenetrasie is noodsaaklik vir die sukses van ’n bedryf, en Keulder sou graag beter belyning tussen die Suid-Afrikaanse regering en kommersiële bedrywe ten voordeel van die Suid-Afrikaanse ekonomie en samelewing wou sien.
Benewens markkragte dink Keulder dat wetenskaplike vooruitgang sal aanhou om die bedryf te beïnvloed. “Nuwe genetika en nuwe tipes plantmateriaal gaan ’n groot katalisator vir verandering in die bedryf wees. Daar is ongelooflike werk in genetika en biologiese wetenskappe wat die manier wat ons voedsel produseer vir ewig gaan verander.”
Doen meer met minder
Petru du Plessis is ’n steenvrugprodusent en tegniese adviseur op Stellenbosch wat ook by bemarking betrokke is. Hy het grootgeword op ’n vrugteplaas in die Koue Bokkeveld, en werk nou al ongeveer 25 jaar in die bedryf. Hy reken die wêreld het “kleiner” geword in die sin dat mense baie meer verbind is aan mekaar.
“Soos wat kommunikasie wêreldwyd verbeter het, en die eenkanaalbemarkingstelsel gesneuwel het, het daar ewe skielik ’n tsunami van nuwe kultivars oor ons landsgrense gekom,” sê Du Plessis. “Die Suid-Afrikaanse steenvrugbedryf het ’n leerskool deurgegaan om te weet dat die oorsese kultivars nie noodwendig beter is as dié wat plaaslik geteel is nie.”
Sommige van die nuwe kultivars was egter uitnemend en het na Du Plessis se mening ’n kwantum sprong in die steenvrugbedryf veroorsaak. “As jy die genetika van vrugte wat 25 jaar terug beskikbaar was vandag sou toepas sou elke enkele steenvrugboer in Suid-Afrika bankrot gewees het.”
Die nuwe kultivars lewer baie groter vrugte, wat beteken dat produsente meer uitvoerkartonne per hektaar produseer. “Die beste produsent kon 25 jaar terug kwalik by 4 000 5.25kg-kartonne pruime per hektaar uitkom,” sê Du Plessis. “Dis nie deesdae ongewoon vir produsente om 8 000 of selfs tot 10 000 kartonne per hektaar te pluk nie, en die Klas 1 uitpakpersentasie is hoër.”
Bo en behalwe groter vrugte, bied die moderne kultivars ook beter eetgehalte en stoorvermoë, wat ’n positiewe effek gehad het op die groei van uitvoere.
Die ander verandering wat Du Plessis beklemtoon is nette. “Toe ek begin werk het, was hier geen nette op enige vrugsoorte in enige vrugte area nie.” Nette verbeter groeikrag en vruggrootte, en verminder sonbrand en windskade. Nette verlaag ook watergebruik.
Du Plessis verduidelik dat nette produsente toelaat om meer te doen met minder. “Toe ek in die Koue Bokkeveld groot geword het, was die plase groot, leeg en wyd. En daar was volop water vir besproeiing. In my leeftyd het water so skaars geraak dat daar nie eintlik meer nuwe hektare geplant kan word nie.”
Klimaatsverandering, stygende insetkoste, en die vraag na residuvrye vrugte sonder plastiekverpakking gaan aanhou om die vrugtebedryf onder druk te sit. “Twintig jaar terug het niemand eintlik gepraat oor klimaatsverandering, plastiekverpakking, of die koste van elektrisiteit nie,” sê Du Plessis. “Maar ek is bly ons het ontwikkel tot op ’n punt waar ons besef dat ons ’n impak op die natuur het. Ons het nog nie al die antwoorde nie, maar ons moet daaroor dink en oplossings vind.”
Vier generasies van verandering
Paul Clüver, besturende direkteur van De Rust Landgoed, het reeds van sesjarige ouderdom besef hy is in boerdery. “Ek wou die dag af gehad het op my verjaarsdag, maar my pa het gesê, hier kry mense nie af op hulle verjaarsdae nie. Ek het geskree en gehuil, maar toe het ek gaan werk.”
Paul en drie van sy susters is die vierde generasie Clüvers op De Rust. Karin Clüver is produksiebestuurder. “Dit is ongelooflik hoe die tegnologie en praktyke wat ons gebruik het oor die jare verander het. Een van die goed is die kultivars wat beskikbaar is. En ook nuwe praktyke in terme van boorduitleg en onderstamme.”
Karin noem die voorbeeld van Gala. “Toe ons begin het, het jy goed gedoen as Gala 35 ton per hektaar dra. Nou moet Gala 100–110 ton dra, met 80% uitpakke.”
Sy is veral positief oor die beskikbaarheid van data wat besluitneming op grondvlak vergemaklik. “Ons gebruik byvoorbeeld hommeltuie en satellietbeelde. Oor tyd het dit goedkoper geraak, en die kwaliteit is beter.”
“Ons het beweeg na presisie boerdery,” beaam Paul. “Die kapitaal wat jy in ’n nuwe boord insit het dramaties toegeneem, maar die prestasie van daai kapitaal is ook dramaties beter.”
Paul reken dat die uitskakeling van tussengangers in die leweringsketting in die afgelope 30 jaar ’n noemenswaardige verandering was. Vandag praat produsente direk met supermarkte oorsee. “Die boer moet groot genoeg wees dat hy relevant is. So jy kry konsolidasie, wat ’n makrotendens orals in boerdery is. Dit is ook die enigste manier wat jy die nuwe tegnologie kan bekostig.”
Volgens Paul was daar 30 jaar gelede, toe hy en Karin begin boer het, 65 aandeelhouerprodusente by Kromco, terwyl daar vandag 11 is. “Maar ons produseer 40% meer appels. Dit vertel vir jou die storie.”
Wat betref die toekoms is dit volgens Karin moeilik om spesifieke impakte uit te sonder. Sy neem definitief die effek van klimaatsverandering en beperkte hulpbronne in ag wanneer sy nuwe boorde beplan, en sy maak ten volle gebruik van hulpmiddels soos geoutomatiseerde besproeiingstelsels en nette.
Paul glo dat appelproduksie onder nette standaard gaan raak binne die volgende paar dekades, en dat dit een van drie makrotendense in die bedryf verteenwoordig. Die tweede een is dat die tempo van meganisering gaan versnel, en die derde is dat die druk op chemie gebruik al hoe groter gaan raak.
Die storie van die steen- en kernvrugbedryf oor die laaste 20–30 jaar, soos beskryf deur die Clüvers, du Plessis, en Keulder, is een van indrukwekkende groei in produksie danksy beter kultivars, praktyke en tegnologie. Hulle is dit egter eens dat produsente in die toekoms nóg meer met nóg minder sal moet bereik indien Suid-Afrika sy plek in wêreldmarkte wil behou.