Taai steenvrugseisoen agter die rug
Logistieke uitdagings het weereens vir produsente en bemarkers slapelose nagte besorg.
“Dit was seker een van die moeilikste seisoene wat ons nog beleef het,” het Jacques du Preez, Hortgro se algemene bestuurder van handel en markte, by die onlangse afsluiting van die Steenvrug Gesamentlike Bemarkingsforum gesê.
“Die groot ding was faktore buite ons beheer wat ons frustreer het,” het hy bygevoeg. “Die hartseer deel was dat die markte uitstekend was, maar logistiek was weereens ’n seer punt.”
Laer Europese steenvrugproduksie het relatiewe oop markte vir Suid-Afrikaanse vrugte vroeg in die uitvoerseisoen beteken, terwyl ons eie volumes van veral later kultivars as gevolg van ongunstige weersomstandighede tydens blomtyd effens verminder was.
Europese Unie grootste nektarienmark
Nina Viljoen, landbou-ekonoom by Hortgro, het die voorlopige inspeksie- en uitvoersyfers vir die afgelope seisoen aangebied – sien opsomming in Tabel 1. Volledige syfers sal op die Hortgro webwerf beskikbaar gemaak word.
Tabel 1: 2023–2024 Inspeksie- en uitvoersyfers vir steenvrugte.
Vrugtipe | Volume 2023–24 |
2023–24 teenoor 2022–23 |
Grootste uitvoermark (% van totaal) |
Vooruitskatting vir 2028–2029 |
2028–29 teenoor 2023–24 |
Appelkose (in 4.75 kg-karton ekwivalente) |
480 301 | -19% | Midde-Ooste (51%) |
532 988 | +11% |
Nektariens (in 2.5 kg-karton ekwivalente) |
8 763 144 | +13% | Europese Unie (43%) |
12 179 018 | +39% |
Perskes (in 2.5 kg-karton ekwivalente) |
1 865 416 | -14% | Verenigde Koninkryk (39%) |
1 998 749 | +7% |
Pruime (in 5.25 kg-karton ekwivalente) |
12 208 439 | -10% | Europese Unie (51%) |
16 201 859 | +33% |
Totaal (in ton) |
98 846 | -6% | – | 123 036 | +32% |
Hortgro data toon dat appelkoos- en perske-volumes gestabiliseer het, maar nektarienproduksie neem steeds toe. Daarmee saam begin die vroeë- en laatseisoen nektarienpieke relatief afplat soos wat jong blokke van middelseisoenkultivars in drag kom.
Volgens Viljoen behoort pruimproduksie vorentoe tussen 16 en 17 miljoen 5.25-kg kartonne te stabiliseer indien die weer saamspeel.
Wat betref markgroottes is die mees opvallende verwikkeling die groei van nektariens in die Europese Unie: 43% van uitgevoerde Suid-Afrikaanse nektariens is in die afgelope seisoen in die Europese Unie bemark teenoor 33% die vorige seisoen. Die Verenigde Koninkryk het van 47% na 37% gedaal.
“Dis die eerste keer dat die EU ons grootste nektarienmark is,” het Du Preez bevestig.
Viljoen het ook Chileense uitvoersyfers gedeel. Soortgelyk aan Suid-Afrika wys Chili sterk groei in nektariens, terwyl perskes effens afgeneem het oor die laaste dekade.
Alhoewel Chileense pruimuitvoere as geheel toegeneem het, het hulle totale uitvoere van Japanese pruime min of meer stabiel gebly. Verhoogde Chileense uitvoervolumes is toe te skryf aan Europese pruime, oftewel vars pruimedante, wat in veral China gewild is.
Chinese marktoegang vorder flink
Die vinnige vermeerdering in Chileense uitvoere van nektariens en pruimedante na China beklemtoon weereens die geweldige potensiaal van dié mark – ’n mark wat Suid-Afrikaanse produsente moontlik binnekort sal kan betree.
“Moenie oor-opgewonde raak nie,” het Du Preez gewaarsku, “maar ons het terugvoering gekry van China rondom steenvrugte se marktoegang. Dis die vinnigste wat ek die Chinese nog sien beweeg het met marktoegang.”
China evalueer tans ’n aansoek vir toegang van Suid-Afrikaanse appelkose, perskes, nektariens, pruime, en pruimedante. “Vir die eerste keer in die geskiedenis gaan hulle meer as een vrugsoort op ’n slag hanteer,” het Du Preez gesê. Kersies is wel nie ingesluit nie.
Huidig is Hortgro se marktoegangspan onder leiding van Lindi Benić besig om antwoorde op China se fitosanitêre vraelys voor te berei. Hierna volg tegniese onderhandelings oor uitvoerprotokolle, en inspeksies van produksie- en pakhuisfasiliteite.
Du Preez het rapporteer dat marktoegang vir perskes en pruime na Indonesië hernu is, maar dat marktoegang vir ander steenvrugtipes verloor is omdat Suid-Afrika nie enige daarvan na Indonesië uitgevoer het sedert marktoegang laas drie jaar gelede hernu is nie. Hy het aanbeveel dat uitvoerders verseker dat markte oop bly deur jaarliks vrugte na alle markte te stuur, al is dit klein volumes.
Om bestaande markte te behou en nuwe markte te diens, is Hortgro soos altyd proaktief met proewe besig. Du Preez het berig dat protokolle vir koue-behandeling van pruime tans ontwikkel word, met die doel om metielbromied beroking te vervang, sou dié middel deur Indië uitfaseer word.
Fitosanitêre navorser Dr Renate Smit, bestuurder van PHYLA, het terugvoer gegee oor voorlopige werk om die effek van koue-behandeling, soos deur die Amerikaanse mark vereis, op die kwaliteit van 12 nektarienkultivars te bepaal.
Dit lyk asof koue-behandeling van veral geelvleiskultivars wel lewensvatbaar is, maar meer navorsing is nodig. Verdere proewe word vir die komende seisoen beplan. Die resultate sal help met die implementering van koue-behandelings vir markte soos die Verenigde State.
Terugblik en vooruitsigte
Soos te verwagte, was terugvoer rondom die Kaapse hawe ’n belangrike agendapunt. Antoinette van Heerden, bestuurder van logistieke aangeleenthede by FPEF, het van die uitdagings verduidelik.
In kort is die toerusting by die Kaapse hawe – asook by ander hawens – te min en te oud, en instandhouding en beplanning is onvoldoende. Daar is ook nie genoeg opgeleide personeel nie.
Verlede seisoen het tafeldruifprodusente van Walvisbaai gebruik gemaak, wat van die druk op Kaapstad verlig het. Hulle beplan om dit weer in die komende seisoen te doen. Steenvrugprodusente het gedeeltelik deur Port Elizabeth en selfs Durban verskeep, maar die addisionele volumes het weer tekorte aan vragmotorkapasiteit en houerbeskikbaarheid in daardie hawens veroorsaak.
Van Heerden en Du Preez is egter beide positief oor nuwe leierskap by Transnet en nuwe terminaalbestuur by die Kaapse hawe. Daar is ook reeds veranderinge gemaak om meer toerusting en personeel in die komende seisoen beskikbaar te stel.
“In die verlede was die hawe se houding dat wat binne die hawe gebeur is hulle besigheid, en wat buite gebeur is ons s’n,” het Van Heerden gesê. “Dis moeilik om so te werk. Maar nou het hulle hul oogpunt verander, en hulle wil die hele proses verstaan.”
Alhoewel die hawe wel oor twee jaar nuwe toerusting behoort te kry, gaan die komende seisoen nog steeds uitdagend wees, het Du Preez gesê. “Ons moet onsself regmaak vir nog ’n taai seisoen. Ek dink nou meer as ooit moet ons saamwerk – nie teen mekaar nie.”
Met die afsluiting van die vergadering het Du Preez bevestig dat logistiek sy span se hooffokus in die komende seisoen sal bly, maar dat marktoegang, fitosanitêre risiko en plaagbeheer ook steeds aandag sal geniet.
“Ek het by verlede jaar se vergadering gesê, as ons nog twee seisoene kan oorleef glo ek ons het blink vooruitsigte,” het Du Preez gesê. “Ons het nog een seisoen oor. As ons deur hom kan kom, dan gaan dit beter gaan.”