Skip to content
20250820 124333

Tegnologie en volhoubaarheid dryf vrugteproduksie in die Langkloof

  • EM Steenkamp
  • News

Deur Elise-Marie Steenkamp

Die Langkloof, ’n unieke vrugbare vallei bekend vir sy appel- en peerboorde, ondergaan tans groot veranderinge wat die streek se vrugteproduksie ingrypend beïnvloed.

Johan Kotze, voorsitter van die Langkloof Vrugte Vereniging (LVV), en Neil-Pierre Strydom, bestuurder van die LVV, gesels oor die nuutste tendense, uitdagings en vooruitsigte vir produsente in die streek.

Hierdie is ‘n opsomming van die onderhoud met Neil-Pierre Strydom en Johan Kotze. Kyk gerus na die volledige onderhoud hier: https://www.youtube.com/watch?v=A9FMVJF0U8A

LVV
Neil-Pierre Strydom en Johan Kotze

Nette, nuwe variëteite en presisieboerdery

Volgens Kotze het die infaseer van nette – beide vaste strukture en drapeernette – ’n beduidende verskil aan vrugteproduksie in die streek gemaak. “Ons is in ’n haelgevoelige area. Met nette kan boere hul uitpakke verbeter en minder klas 3  vrugte lewer,” verduidelik hy. Nuwe, beter gekleurde variëteite en meer produktiewe onderstamme dra verder by tot beter opbrengste.

Strydom stem saam en wys daarop dat feitlik alle nuwe aanplantings in die Langkloof onder nette plaasvind. “Selfs ou boorde word met drapeernette bedek – dit maak ’n groot verskil.”

Verder maak tegnologie vinnig sy verskyning in die streek. Satelietdata en hommeltuie word gebruik om die groeikrag van bome en gesondheid van boorde te monitor, wat produsente help om bemesting en waterdoeltreffendheid te verbeter.

“Daar is definitief ’n groter vraag na datagedrewe produksiepraktyke,” sê Strydom. “Miskien het dit te make met jonger toetreders, wat meer tegnologie bedrewe is, wat in die bedryf kom. Daarbenewens het die Langkloof onlangs ’n moeilike tyd met droogte agter die rug, wat produsente na nuwe tegnologie laat wend het.

Klimaat en waterbestuur

Klimaatsverandering is ’n groot faktor vir Langkloof produsente. Volgens Kotze is een van die grootste klimaatsfaktore wat produsente bevoordeel koue eenhede. “Dit help om goeie appel en peer oeste te verseker.”

Warm winters en onvoldoende koue-eenhede beïnvloed die streek se appelsiklusse en opbrengste negatief. “Wanneer volumes af is, kan ons dit dikwels terugvoer na ’n warm winter,” sê Kotze. Daarby kom die toenemende voorkoms van haelbuie wat plase hard tref.

Water bly ’n brandpunt. Die uitstaande Verifikasie- en Validasie-proses, wat al sedert 2013 sloer, veroorsaak onsekerheid oor regmatige watergebruiksregte. “Banke vra deesdae watersekuriteit voordat hulle lenings toestaan. Dit maak uitbreidings baie moeilik,” beklemtoon Kotze. Produsente gebruik wel moderne besproeiingstelsels soos mikrospuite, drupbesproeiing en deklae om water meer effektief aan te wend.

Volhoubare praktyke en samewerking

Produsente in die Langkloof skakel al hoe meer herlewingslandbou-tegnieke in, soos die hergebruik van gekapte boordmateriaal as deklaag en kompos. Dit verbeter grondgesondheid en beperk waterverlies.

Aan die bemesting kant word grondmonsters elke drie jaar en blaarmonsters jaarliks geneem. Produsente stel hiervolgens bemestingsprogramme op. “Deur die verloop van die seisoen besoek tegniese landboukundiges die boorde om groeikrag te bepaal, potensiële set te bepaal en groei afwykings te identifiseer. Hiervolgens en op grond van weersomstandighede word aanpassings gemaak,” sê Kotze.

Aan die oesbeskermingskant raak die uitdagings al hoe moeiliker want die gebruik van chemie is markspesifiek. “Wat jy vir die een mark mag gebruik is verbode vir ’n ander mark. Tegniese landbouchemiese adviseurs speel hier ’n groot rol om seker te maak produsente bly binne die zero residuvlakke en voldoen aan alle vereistes om vrugte veilig vir menslike gebruik te hou,” sê Kotze.

Die LVV speel ’n sleutelrol om produsente bymekaar te bring deur velddae en seminare. Strydom wys daarop dat die klein, hegte gemeenskap in die Langkloof saamstaan: “Omdat almal dieselfde uitdagings ervaar, deel ons makliker inligting oor die spreekwoordelike grensdraad en kry ons kundiges in om probleme aan te spreek.”

 Arbeid, misdaad en isolasie: struikelblokke vir die toekoms

Arbeid bly ’n komplekse kwessie, sê Strydom. Veral met betrekking tot produktiwiteit en seisoenale beskikbaarheid. Steenvrugproduksie neem byvoorbeeld af omdat plukkers rondom die Kersseisoen skaars is.

Misdaad, insluitend koperdiefstal en vandalisme, druk ook swaar op produsente en breek ons moraal af, sê Kotze.

Tegnologie, soos hommeltuie met termiese sensors, begin ’n rol speel in plaasveiligheid. “Hommeltuie kan stil en effektief groot gebiede monitor, veral snags wanneer meeste misdade plaasvind,” verduidelik Strydom.

Geleenthede in ’n unieke streek

Ten spyte van die uitdagings, bied die Langkloof ook besondere geleenthede. Die koue nagte help met kleurontwikkeling van kultivars soos Forelle en bloskleur appels, sê Kotze. Die streek se afgesonderdheid kan benut word as ’n voordeel: “As ons saamwerk, kan die Langkloof as ’n voorkeur- en selfs pesvrye vrugtegebied bemark word,” meen Strydom.

Kotze en Strydom is dit eens: met die regte kombinasie van innovasie, volhoubaarheid en samewerking, kan die Langkloof se vrugteboere nie net hul uitdagings oorbrug nie, maar ook hul unieke posisie in die Suid-Afrikaanse landboubedryf versterk.

Back To Top