Skip to content
Iwan In Lab 3a

Verrassings in landbou selde ‘n goeie ding

Beperk risiko’s deur kultivar-evaluasie

Deur Anna Mouton

Pruimprodusente is die afgelope seisoen onkant gevang deur die wisselvallige klimaat. Twee hittegolwe in die lente tesame met kwaai wind gedurende vroeë vrugontwikkeling het tot teleurstellende volumes uitvoerpruime bygedra. Ongeveer vyftien persent minder kartonne het die land verlaat as wat, gegewe die produksie-potensiaal, verwag is.

Swak opbrengste per hektaar bied ’n uitdaging vir pruimprodusente wat reeds die vorige drie jaar onder droogte deurgeloop het. Wat staan hulle te doen?

Evaluasie, evaluasie, evaluasie!

Skryf dit asseblief in hoofletters, sê Charl Stander, tegniese steenvrugbedryfsadviseur van Franschhoek. “Ouens kan nie net kultivars aanplant waarvan hulle niks weet nie. Deeglike evaluasie van kultivars is noodsaaklik.”

Plant is nie perde koop nie

“Dit is die bedryf wat skade lei as verkeerde kultivars geplant word,” beaam dr. Iwan Labuschagne, hoof uitvoerende beampte van Provar. Labuschagne glo dat aanpasbaarheid van nuwe kultivars krities is. “Die statistiek wat ons gebruik wys hoe ’n kultivar by verskillende omgewings aanpas en of dit in ‘n spesifieke gebied aard.”

Die ideale kultivar vir enige omgewing is een wat goed aangepas is maar wat ook wisselvallige klimaatstoestande kan akkommodeer. “Uit ’n evalueringsoogpunt sal ons graag vir produsente die keuse wil gee van kultivars wat onder verskeie verskillende omstandighede nog steeds ‘n produk kan lewer wat goed berg en wat hulle kan bemark,” sê Carl Hörstmann, steenvrugevalueerder by Provar. “Op die ou end is ‘n robuuste kultivar die beste waarde vir geld.”

Warm weer en wind het die afgelope seisoen vir pruimprodusente duur gekos. Ongelukkig is daar niks wat mens kan doen om vorentoe beter klimaatstoestande te verseker nie — maar produsente kan wel hulle risiko’s verskans deur kultivars sorgvuldig te kies. Goeie besluite is egter slegs moontlik as daar goeie inligting beskikbaar is.

“Dit is hoekom die evalueringsproses nou belangriker is as ooit tevore,” beklemtoon Stander. “Ons klimaat het verander en ons sit met ‘n klomp kultivars wat die land inkom waarvan ons min weet.

“Kultivarkeuse is meer as in die Landbouweekblad lees dat jy iets moet plant. Jy gebruik wetenskaplike en die bemarkingsdata en na die kultivar se aanpasbaarheid in verskillende areas. Dié profiel wat jy van ‘n kultivar skep, is baie belangrik. Dit word slegs deur die evalueringsproses gegenereer.”

“In die toekoms gaan ons baie meer moet fokus op mikroklimaat-areas binne-in ’n area,” meen Stander. “Blomtyd, windgevoeligheid gaan alles ‘n invloed op kultivar keuse hê.”

Verrassings is selde ‘n goeie ding

Die probleme met vrugset die afgelope seisoen was grootliks te danke aan twee hittegolwe gedurende die lente. “Alle kultivars wat toe in volblom was, het weinig of amper niks geset nie,” verduidelik Stander.

Hörstmann het dieselfde probleem met vrugset opgemerk in van die kultivars wat tans onder evaluasie is. “Daar’s een van die pruimkultivars wat die afgelope vier jaar goed doen  — dit is een van die voorloper variëteite wat ek al evalueer het,” vertel hy. “Die afgelope seisoen was die eerste jaar wat daar geen vrugte aan die bome was nie.”

Die kultivar onder evaluasie is soortgelyk aan ‘Angeleno’ en sou in die toekoms dalk ’n opvolger kon wees. “Nou het ons skielik toestande gesien waar ‘n eienskap uitdop wat mens so bietjie laat terugstaan en heroorweeg,” sê Hörstmann. “Mens moet nou in ag neem dat dit een van die kultivar se moontlike swak punte is. Produsente wil eerder vooraf weet wat hulle van ‘n kultivar kan verwag. Verrassings in landbou is selde ’n goeie ding.”

Volgens Hörstmann is een doel van evaluasie om die moontlike uitdagings rondom ’n kultivar te ontdek. “Daar is nie ‘n perfekte produk nie. Mens wil weet wat is die potensiële probleme en of dit bestuur kan word? Want as dit ‘n probleem is wat nie bestuur kan word nie, dan is die produk ’n risiko.”

Van boord tot verbruiker

Provar spesialiseer in die onafhanklike evaluasie van vrugte-kultivars. In samewerking met Hortgro Pome en Hortgro Stone het Provar elf proefpersele gevestig as deel van die Pro-Hort program. “Hoe ons evaluasie hanteer in die Pro-Hort stelsel is dat ons tien bome in ten minste drie areas plant. Die areas word op grond van die gewas gekies,” sê Hörstmann.

Die bome word aanvanklik onderwerp aan ‘n gevorderde keuringstoets wat bepalings van aspekte soos blomperiode en boomvorm insluit. “Ons kyk ook na die fenologie van die bome sodat, as ‘n kultivar een of ander vereiste het, jy dit kan identifiseer en bestuur in die semi-kommersiële fase. Byvoorbeeld, as jy sien die bome reageer nie goed op ‘n sekere snoeiwyse nie, dan kan ons dit aanpas voordat dit by voldraende bome kom. En as jy sien ‘n kultivar gaan nie werk nie, dan kan ons die bome uithaal en die evaluasie stop.”

Die semi-kommersiële evaluasie-fase fokus op die kommersiële lewensvatbaarheid van ‘n kultivar. Die doel is om te bepaal watter produksie verwag kan word van ‘n kultivar onder kommersiële toestande in ‘n spesifieke area en op ‘n spesifieke onderstam. “Uit tien bome en drie areas kan mens begin somme maak en ekstrapoleer wat die tonnemaat sou wees uit ‘n volle boord en wat is die vrugkwaliteitverspreiding en uitpakke. Dan kan ‘n mens begin bepaal of ‘n produsent gaan geld maak met die kultivar of nie.”

Benewens aspekte soos vruggrootte en kwaliteit evalueer Provar ook die na-oes eienskappe van nuwe kultivars. Hörstmann glo dat hulle kliënte veral waarde uit die opbergingsproewe kry as gevolg van Provar se ervaring met na-oes probleme. “Ons weet al wat is bestuurbare probleme en wat nie, en ons kan aanbevelings maak oor hoe om die probleme te bestuur.”

Hörstmann getuig dat uitvoerders al ernstig skade gelei het as gevolg van onvoorsiene na-oes probleme. “Ons sit tans met só ’n geval waar ’n kultivar aangeplant en uitgevoer is. Die vrugte is nou gebrandmerk as swak kwaliteit omdat dit nie goed berg nie. Van die supermarkte is huiwerig om die produk aan te koop.”

Dié spesifieke kultivar is nie oorspronklik deur Provar evalueer nie. “Opbergings-evaluasies sou dié probleem opgetel en die situasie kon voorkom word.”

Deur na-oes evaluasie word die beste protokol vir ’n spesifieke kultivar geïdentifiseer. “Pruime kan byvoorbeeld neig na interne verbruining — dan beveel ons aan dat dit onder ’n dubbel-temperatuur opbergingsregime gestoor en geproef word, omdat ons gevind het dat dit die probleem meestal kan oplos. Evaluasie help opbergingsprotokolle verfyn.”

Foto onderskrif: Dr. Iwan Labuschagne en Chantel Adams van Provar evalueer appelkultivars. (foto verskaf)

 

Back To Top