
Hou probleemvrugte uit mark
Deur Elise-Marie Steenkamp
‘n Pakhuis is nie ‘n hospitaal nie en elke rolspeler in die waardeketting moet alles in hul vermoë doen om probleemvrugte uit die mark te hou.
Dit was die beroep van Charl Stander, Hortgro Stone verteenwoordiger en tegniese steenvrugkenner, tydens ‘n webinaar wat Maandag 25 Januarie gehou is. Die webinaar het die kwessie van vermarmering op steenvrugte onder loep geneem en wat die bedryf tans doen om dit te voorkom en uit te wis.
Vermarmering het die laaste paar jaar onder veral pruime voorgekom en het navorsers en produsente aanvanklik laat kopkrap, voordat ‘n viroïed as oorsaak geïdentifiseer is. “Vermarmerde vrugte presenteer met ligter en donkerder kolle op die skil, terwyl verkurking van die vleis ook kan voorkom – wat dit droog en oneetbaar maak,” sê Stander.
“Dit is uiters belangrik dat produsente hul personeel in die boord oplei om vermarmering te herken, en dat probleemvrugte reeds in die boord uitgegooi word. As ‘n tweede stap, moet pakhuise dieselfde doen. Dit is egter moeiliker om vrugte op die sorteertafel te identifiseer, met veral verkurking wat ‘n inwendige toestand is.”
Stander het beklemtoon dat sulke vrugte geen gevaar vir verbruikers inhou nie, behalwe dat die skil nie mooi lyk nie, en dat verkurkte vrugte nie ryp word nie maar hard bly.
Dit is veral twee pruimkultivars, Laetitia en Ruby Sun, wat onder verkurking deurloop. “Ons moet die waardeketting uitsorteer en ons mark beskerm,” meen Stander. “Ons doen ‘n ernstige beroep op almal in die waardeketting om nie hierdie vrugte in die kartonne te sit nie.”
Gielie Bester, bekende steenvrugkonsultant, het gesê dat hy opgemerk het dat verkurking veral onder die kleiner vruggroottes van Ruby Star, wat in wese ‘n groot vrug is, voorkom. “Mens sien dit minder onder die groter vrugte wat dubbel en trippel A groottes het. Ruby Star se druk meet ook hoog, tussen 11 en 13 kilogram. ‘n Voorstel is om die pakmasjien se digtheid-drukmeting so te stel dat vrugte met hoër drukke uitgegooi word.” Sorteerders kan ook fokus op die tafels met die kleiner vruggroottes.
Hortgro het vroeër aan die bedryf gevra om bome wat moontlik geïnfekteer is, te identifiseer, uit te trek en te vernietig sodat moontlike meganiese oordrag beperk kan word en ook om te voorkom dat vrugte met verkurking op die sorteertafel beland. Daar is sedert 2018 reeds drie navorsingsprojekte van stapel gestuur om vermarmering en verkurking te ondersoek en te verstaan.
Prof. Hano Maree en dr. Rachelle Bester het ‘n toets ontwikkel om te kyk of bome met die viroïed besmet is, aldan nie. Volgens Maree is die toets uiters betroubaar maar ongelukkig duur. “Daar word tans gewerk aan ‘n nuwe toets met nuwe tegnologie, om ‘n goedkoper opsie aan produsente te bied, maar daar moet nog heelwat werk in hierdie verband gedoen word.”
Produsente wat vermoed hulle bome is met die viroïed besmet, word aangemoedig om so gou moontlik die bome te laat toets. Produsente word aangemoedig om eerstens hul kwekerye te kontak. Indien die bome gesertifiseer is, kan die Suid-Afrikaanse Plantverbeteringskema (Plant SA) gekontak word en is dit moontlik om die bron van die enthout (budwood) wat gebruik is om die bome te maak, op te spoor. Rachel Kriel (bestuurder van Plant SA) kan produsente dan inlig oor die risiko verbonde aan die bome, gebaseer op die bron van die enthout.
Ook, word produsente aangemoedig om nuwe aanplantings met bome met ‘n bloukaartjie van Plant SA te doen. Dit beteken dat die bome gemaak is van bronmateriaal wat negatief vir die virus getoets het. Alhoewel dit nie 100% kan waarborg dat elke enkele boom skoon is nie, sal dit wel die risiko van besmette bome tot baie groot mate beperk.
Hortgro het volgende inligting saamgestel om produsente en pakhuise te bemagtig:
Vind inligting hier: https://www.hortgro-science.co.za/fresh-notes/
Kontak Rachel Kriel van Plant SA hier: https://plantsa.co.za/en/contact-us/