
Science in die Kloof
Deur Elise-Marie Steenkamp
In Mei vanjaar het die hele span van Hortgro Science (Hugh Campbell, Wiehann Steyn, Matthew Addison en Marno van der Westhuizen) afgesak Langkloof toe. Tradisioneel besoek die span die Langkloof gewoonlik in Desember elke jaar wanneer die Hortgro Science Langkloof seminaar plaasvind.
Weens die koronaviruspandemie het die seminaar verlede jaar nie plaasgevind nie. Hoewel die plan vanjaar is om gedurende Desember 2021 voort te gaan met die Langkloof seminaar, was die behoefte steeds daar om inligting te deel en bestekopname te maak van kwessies in die streek.
Meer as vyftig bedryfsrolspelers het die inligtingsessie bygewoon, waartydens voordragte gelewer is oor opwindende navorsing wat tans gedoen word, soos Matthew se dekgewasse-projek, asook die waarde van onafhanklike evaluasies wat by die Pro-Hort persele plaasvind. Die geleentheid is ook gebruik om fase twee van die boord van die toekoms bekend te stel.
Volgens Wiehann Steyn, Hortgro Science se algemene bestuurder, het die span soveel moontlik plekke besoek. “Ons het eers tussen Montagu en Barrydale by Niël Joubert aangegaan om te gesels oor die voortslepende droogte en ander kwessies in die Klein Karoo. In die Langkloof het ons verskeie boorde besoek wat moonlik kan kwalifiseer vir fase twee van die boord vd toekoms. Onder andere Tulpieskraal (André Kritzinger), Klipdrift 41 (Rey Rademeyer), Fairview (Hendrik Olivier), Louterwater Landgoed (Cornelius Muller) en Helderwater, Die Nek, Brugplaas en Beau Haru (Dutoit Agri). Ons het ook die Pro-Hort perseel by Die Nek besoek.”

Die besoek aan die Langkloof was om verskeie redes belangrik, sê Steyn. “Dit was ’n geleentheid om tydens Provar se vrugteuitstalling iets oor Hortgro se betrokkenheid by die Pro-Hort persele te sê en te verduidelik hoekom onafhanklike kultivarevaluasie so belangrik is wanneer aanplantingsbesluite geneem word. Dit was ook ’n kans om boorde wat moontlik kwalifiseer vir fase twee van die boord van die toekoms te besoek.”
Volgens Steyn was daar nie met die eerste rondte van die boord van die toekoms, Langkloofboorde betrokke nie en Hortgro wil baie graag tydens fase twee wel boorde daar hê. “Ons wou uiteraard ook in die Langkloof gesig wys en notas uitruil met van die leidende boere oor hul behoeftes en probleme.”

Uitdagings
Volgens Steyn bly water een van die grootste uitdaging in die streek. Watervoorsienning word bemoeilik deurdat die Langkloof, die Gamtoos-sitrusprodusente en Gqeberha dieselfde rivierstelsel benut. Verder bly die klimaat ’n groot uitdaging. Steyn haal vir Hugh Campbell aan: “Dié deel van die wêreld het nie klimaat nie, hulle het weer.”
Steyn meen die Langkloof kry die hele spektrum van uitdagende klimaatsverskynsels, soos droogte, vloede en hael. “Die Langkloof loop jaarliks onder hael deur. In die 2020/21 seisoen was daar drie groot haelstorms.”
Suksesse
Aan die positiewe kant, meen Steyn is daar baie sterk innovasie tendense in die Langkloof. “Dit is duidelik dat verskeie produsente uit die boks dink oor plantstelsels en heel gemaklik is om nuwe onderstamme, nette en tegnologie te evalueer en in te sluit by hul produksiepraktyke.” Hy meen van die nuwe aanplantings is hipermodern. “Die area aanplantings onder nette neem merkbaar toe en beskerm ’n al hoe groter deel van die oes teen hael.”

Volgens Matthew Addison, Hortgro Science se oesbeskermingsbestuurder, het die Langkloof se boorde oor die algemeen baie goed daaruitgesien. “Daar was geen buitengewone uitbrake van peste en plae wat ’n impak op produksie gehad het nie.”
Hy sê wel dat daar skade aan appels en pere was wat moontlik deur suiende insekte veroorsaak is, hoewel dit nog nie bevestig kon word nie. “Dié skade kon ook ’n virale oorsprong gehad het,” meen hy. Addison sê voorts dat daar wel tans ’n area-wye probleem met suiende insekte is, waaraan Hortgro werk. Hortgro befonds ook ’n projek wat die oorsaak van soortgelyke skade in Grabouw (hetsy insek of viraal), ondersoek.
Beide Steyn en Addison het gesê dat hulle verheug was oor die goeie bywoning, entoesiastiese gesprekke en wedersydse inligting-deling. Dit was ook duidelik dat produsente lus was vir ’n bymekaarkom wat nie digitaal was nie.
Volgens Addison het die Langkloof drasties verander. “Daar is ’n groep produsente wat nuwe, interessante en innoverende produksiemetodes gebruik. Dit illustreer dat innovasie kan wortel skiet ten spyte van moeilike omstandighede.”
(Foto’s deur Matthew Addison)