Sonbrand
Wat is die oorsake en hoe kan dit vermy word? Deur Anna Mouton.
Sonbrand is die skade wat deur oormatige blootstelling aan die son veroorsaak word – enige iemand wat tyd buite spandeer weet dit. ’n Sonbruin vel kan aantreklik wees in ’n persoon, maar dit is beslis nie mooi in appels en ander vrugte nie. Sonbrand is ’n groot rede waarom vrugte afgekeur word vir uitvoer en dus in minder winsgewende markte of sapfabrieke opeindig.
“Sonbrand is meer algemeen in kernvrugte,” sê Prof. Stephanie Midgley van die Departement Hortologie aan Universiteit Stellenbosch. Granny Smith, Golden Delicious, en Fuji is die appelkultivars wat die ergste deurloop.
Volgens Midgley is die impak van sonbrand op sensitiewe kultivars beduidend. “In my ervaring kan ’n gemiddelde boord wat goed bestuur word en nie droogtestres ervaar nie dikwels 10%–15% sonbrand hê. Dit kan opgaan na 30%, soms selfs meer as dit.”
Steenvrugte is ook vatbaar vir sonbrand. “Daar is seisoene wanneer sonbrand ’n probleem is in sekere pruimkultivars,” bevestig Prof. Karen Theron, tot onlangs die houer van die Hortgro Leerstoel in Toegepaste Vooroes Sagtevrugtenavorsing aan Universiteit Stellenbosch. Vrugte met sonbrand het dikwels ook na-oes defekte as gevolg van die rol van hittestres in beide sonbrand en sommige na-oes probleme.
Die sonbrand spektrum
Sonbrand is ’n gesamentlike term vir drie verskillende vooroes toestande. Die beskrywings hieronder verwys na appels, maar soortgelyke toestande affekteer ander vrugte en selfs party groente.
Sonbrandnekrose is die mees dramatiese vorm van sonbrand. Aangetaste vrugte het donkerbruin of swart areas van dooie weefsel op hulle oppervlak. Die skade kan die vrugvlees vir ’n aantal millimeter binnedring en is die ideale groeimedium vir organismes wat bederf veroorsaak. Die enigste moontlike gebruik van vrugte met sonbrandnekrose is versapping.
Navorsing het gewys dat sonbrandnekrose plaasvind wanneer die oppervlak van die vrugte temperature van 52 Hitte – nie lig nie – veroorsaak die weefselskade en -afsterf. Sonbrandnekrose kan eksperimenteel verwek word in algehele donkerte deur die vrugoppervlak te verhit. In praktyk is die oorsaak van die nekrose egter steeds die son, aangesien dit die bron van die radiasie is wat die vrugoppervlak verhit.
Sonbrandverbruining in vrugte is soortgelyk aan sonverbruining in mense. Die vrugte reageer op oormatige lig en hitte deur geel, bruin, brons of donker verkleuring van die blootgestelde areas van die skil te ontwikkel. Die onderliggende vrugvlees word nie beskadig nie. Aangetaste vrugte kan hoër suikervlakke en laer suurheid hê, maar verbruikers hou nie van die voorkoms van sonbrandverbruining nie. Enigiets meer as ligte verkleuring sal lei tot afkeuring deur die mark.
Beide lig en hitte is nodig vir sonbrandverbruining – dit ontwikkel nie in die donker nie. Appelkultivars verskil in hulle vatbaarheid vir sonbrandverbruining. Die oppervlakkige pigmentasie van sekere rooi appel- en steenvrugkultivars kan ook onderliggende sonbrandverbruining verbloem.
Die derde tipe sonbrand is foto-oksidatiewe sonbrand. Dit affekteer vrugte wat skielik aan sonlig blootgestel word nadat dit aanvanklik in die skadu gegroei het. Bestuurspraktyke soos somersnoei kan aanleiding gee tot foto-oksidatiewe sonbrand. Selfs vrugte wat pas gepluk is en in die son lê kan simptome ontwikkel. Lig – nie hitte nie – is die primêre oorsaak van foto-oksidatiewe sonbrand.
Vrugte met foto-oksidatiewe sonbrand toon ’n wit area op die vel as gevolg van fotoverbleiking. Die weefsel in die middel van die verbleikte area kan uiteindelik afsterf, en die vrug laat met ’n nekrotiese area soortgelyk aan sonbrandnekrose.
Partymaal ontwikkel vrugte eers tekens van sonbrandskade wanneer hulle reeds in opberging is. Ligte sonbrandverbruining kan vererger tot grootskaalse verdonkering in Granny Smith-appels tydens opberging. Hierdie sonbrandverbruining of sonbrandwonde is ’n na-oes defek. Dit verskil van oppervlakkige brandvlek deurdat dit altyd aan die kant van die vrug ontwikkel wat in die son was, terwyl oppervlakkige brandvlek geneig is om aan die skadukant te ontwikkel.
Faktore wat bydra tot sonbrand
Benewens die hoof oorsake – temperatuur en sonlig – is daar ook verskeie indirekte faktore wat die ontwikkeling van sonbrand kan beïnvloed. Kultivar is een wat reeds hierbo genoem is. Individuele vrugte van dieselfde kultivar reageer ook verskillend op blootstelling aan sonlig. Sommige vrugte – soos sommige mense – blyk nooit te brand nie. Navorsers probeer nog om die redes vir hierdie variasie te bepaal.
Sonbrandverbruining en nekrose is meer algemeen in vrugte wat ’n deursnee van ten minste 45 millimeter het. Foto-oksidatiewe sonbrand tas vrugte van enige grootte aan.
Vrugte loop die risiko van sonbrand wanneer hulle oppervlaktemperatuur bo ’n sekere drumpelwaarde is. Hierdie drumpelwaarde is hoër in vrugte wat die son gewoond is. Alle vrugte kan aanpas by meer son, maar dit neem tyd. Appels wat set en groei in sonlig kan aansienlik meer lig en hitte weerstaan as appels wat hulle lewe lank in die skadu was. Daarteenoor kan appels na ’n lang periode van oortrokke weer vatbaar wees vir sonbrand indien die dae skielik sonnig en warm raak.
Aangesien oppervlaktemperatuur sonbrand beïnvloed sal enigiets wat die vrug warmer of koeler maak ook sonbrand affekteer. Lae relatiewe humiditeit kan sonbrand bevorder deur oppervlaktemperatuur te laat styg. Lugbeweging kan sonbrand verminder deur oppervlaktemperatuur te laat daal. Selfs matige lugbeweging kan vrugtemperatuur met 4–5°C verlaag.
Strategieë om sonbrand te verminder
“Die hoof aksie wat produsente wil neem is lowerbestuur,” sê Midgley. Vrugte wat van kleins af aan sonlig blootgestel is het genoegsame geleentheid gehad om daaraan gewoond te raak en weerstand op te bou teen sterk lig en hoë temperature. Daarenteen sal vrugte wat altyd in die skadu is, brand as hulle onverwags betrap word na somersnoei. Dit is dus raadsaam om somersnoei so vroeg as moontlik na die finale vrugset of tydens die finale vruguitdunning met die hand te doen.
Sekere sensitiewe kultivars soos Granny Smith het egter ’n beperkte vermoë om die son te weerstaan. Op ’n 40°C dag sal sulke vrugte in direkte son brand, ongeag vorige blootstelling aan sonlig. Daarby kan selfs minder sensitiewe kultivars slegs aanpas tot op ’n punt – dus die toenemende rol van skadunette.
Plaaslike navorsing het getoon dat waterstres sonbrand in kern- en steenvrugte verhoog. Optimale besproeiing is belangrik om die risiko van sonbrand af te dek, maar die risiko verminder nie verder deur oormatig te besproei nie.
Korrekte oriëntering van boomrye sal ook help om sonbrand te verminder. In Suid-Afrika is die standaard meestal noord-noordwes na suid-suidoos vir effens minder blootstelling aan die warm namiddagson. Midgley noem dat daar wel nog boorde is wat oos-wes lê. “Wanneer jy deur hulle stap is daar geen sonbrand aan die suidekant nie. Maar daar is soms ernstige sonbrand aan die noordekant.”
Navorsers het al verskeie ingrepe teen sonbrand getoets. Theron onthou eksperimente met kaolien as ’n sonblokkeerder. “Ja, dit verminder sonbrand, maar as jy dit nie 100% afwas nie, dan lyk dit asof daar spuitresidu’s op die vrugte is, wat definitief nie aanvaarbaar is vir die mark nie.” Midgley voeg by dat deurskynende sonblokkeerders ook getoets is, maar nooit inslag gevind het nie.
Verdampingsverkoeling werk goed om sonbrand te verminder, maar dit is nie ’n haalbare oplossing vir Suid-Afrika nie. “Ons het nie genoeg water hiervoor nie,” sê Theron. “En in pruime het jy die probleem dat die vrugte dikwels bars as jy verdampingsverkoeling te na aan oes aanwend.” Verder is daar altyd die gevaar dat die verdampingsverkoeling onderbreek word tydens beurtkrag, wat erge gevolge kan hê vir daardie vrugte wat nou meer sensitief is omdat hulle in koeler kondisies ontwikkel het.
Skadunette is sover die mees praktiese opsie om sonbrand te beveg. “Toe ons bykans tien jaar gelede die proewe gedoen het, was dit duidelik dat daar omtrent geen sonbrand onder skadunette is nie,” bevestig Midgley. “Die intensiteit is minder en die getalle is werklik laag. So dit is wat meeste mense nou gebruik.”
Skadunette gaan waarskynlik nog meer algemeen raak soos wat hoëdigtheidsaanplantings toeneem. Die risiko van sonbrand kan hoër wees in hoëdigtheidsaanplantings omdat die kleiner bome op dwergende onderstamme blootstelling aan lig verhoog. “Daar sou moes navorsing hier gedoen word op tweedimensionele aanplantings, om te sien hoe dit die risiko van sonbrand verander,” sê Midgley. “Maar om absoluut veilig te wees sou mens produsente aanraai om nette op te sit indien hulle so ’n stelsel wil hê.”
Die meedoënlose styging in wêreldtemperature lei ons na ’n warmer en droër toekoms waar sonbrand en verwante probleme al hoe lastiger gaan raak. Ons kan dus verwag dat lowerbestuur en skadunette ’n belangrike hulpmiddel gaan wees vir produsente wat hulle oes wil beskerm in die komende jare.
Verwysing: Racsko J. and Schrader L.E. 2012. Sunburn of apple fruit: historical background, recent advances, and future perspectives. Critical Reviews in Plant Sciences 31(6):455‒504.