Hortgro se Rentmeester (en Braaimeester!) Groet
Dit is moeilik om die Hortgro Paarl-kantoor voor te stel sonder Louis van Zyl. Het jou paaie met die sagtevrugtebedryf gekruis, sou jy hom leer ken, want vir etlike dekades was Louis nie net Hortgro se Braaimeester nie, maar ook die finansiële kaptein wat die bedryfskip deur rowwe stormsee moes navigeer. Die Rentmeester. Hy het met Elise-Marie Steenkamp gepraat.
Louis is in Queenstown in die Oos-Kaap gebore as die oudste van vier kinders. Weens sy pa, ’n mediese dokter en distriksgeneesheer, se beroep het die gesin heelwat rondgetrek, van Hofmeyr na Cradock, na die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) en later die Strand – waar Louis skool klaargemaak het. Hy was in ses skole, waarvan drie in een dorp!
Hy het vroeg in sy lewe as produksievoorman op die vrugtekelkie-lyn by die destydse DeepFreez-fabriek, in Firgrove, gewerk. Min wetend dat sy lewenspad later meer dramaties met “vrugte” sou kruis, maar eers moes hy soos sy tydgenote vir verpligte militêre diensplig aanmeld. Daar het Troep Van Zyl van infanteris tot inligtingsoffisier gevorder. Wanneer hy vandag daaraan terugdink, was dit ‘n harde tyd in sy lewe, maar hy het baie geleer en vinnig groot geword.
Na militêre diensplig het hy by Somchem, destyds deel van die Denel-groep, begin werk. Eers in die finansiesafdeling en later by spesiale projekte. By Somchem het hy aan verskeie sportsoorte deelgeneem, veral rugby. Hy het lank vir die Gordonsbaaise Rugbyklub as agsteman uitgedraf en het by die klub in verskeie bestuursposte, meestal as tesourier, gedien.
Sy reis na die sagtevrugtebedryf het begin toe hy by Somchem weg is. “Die maatskappy het deur moeilike tyd gegaan met heelwat afleggings en daar was baie negatiwiteit. Dit het my begin vang. Ek het bedank en ander werk gesoek.”
’n Klein advertensie in Die Burger oor ’n pos by die Sagtevrugte-produsentetrust (SPT) het sy oog gevang. Hy het aansoek gedoen en is vir ’n onderhoud genooi. Groot was sy verbasing toe hy Anton Rabe saam met Peter Dall, daar sien sit.
“Ek en Anton het mekaar vanuit die toutrekwêreld geken. Ons het vir opponerende klubs, eintlik aartsvyande, tougetrek. Hy vir Valsbaai en ek vir Somchem. En hier sit hierdie ou oorkant die tafel en moet besluit oor my onderhoud.”
Die onderhoud het goed gegaan en Louis het in Desember 1998 by 258 Hoofstraat, Paarl ingeval. “The rest is history,” soos die Engelse sê.
Dit was eers hierna dat hy en Anton nie net vir die sagtevrugtebedryf nie, maar ook vir toutrek, kragte begin saamspan en vriende geword het.
Hulle het beide vir toutrek op provinsiale-, nasionale-bestuursrade gedien en was lank by afrigting betrokke. Beide was internasionale skeidsregters en het Springbokkleure in toutrek. In die ou en nuwe bedeling. Deesdae staan die nasionale toutrekspan as die Proteas bekend.
Beide het in die 720 kg klas tougetrek. Vir die wat nie toutrek ken nie, die agt spanlede saam se gewig mag nie hierdie perk oorskry nie en elkeen in die span het spesifieke rol en posisie. Dit is ’n baie tegniese sport, vertel Louis. Anton was die ankerman en Louis vêrder af op die tou.
Daar is egter parallelle tussen toutrek en die uitdagings wat hulle by die SPT in die gesig gestaar het. “In toutrek is jou span uiteraard so sterk soos swakste skakel,” vertel Louis. “Elkeen moet hulle sterk en swak punte ken. Toutrek leer jou om vas te byt en deur te druk, daardie ekstra tien of 20 sekondes. Om jou spanmaat te help. Deursettingsvermoë. Motivering, ’n gesamentlike visie.
“Nog ’n raakpunt is dat vir beide toutrek en vir die bedryf, dit belangrik is om die regte span mense om jou te hê. Die is nie iets wat mens alleen kan doen nie. Die netwerk rondom jou moet reg wees, van jou huis af reg deur tot op kantoor en na buite. Jy moet jou spanmaat/kollega wat sukkel help, jy moet daar wees vir mekaar, anders verloor almal.”
Aan die begin het dinge by die SPT maar geknor. Net ses mense, moes die bedryf na deregulering op koers hou. “Onthou ons het op daardie stadium so pas uit ’n eenkanaalstelsel gekom. Kontantvloei was ’n probleem. Die bedryf was in chaos. Ons het groot uitdagings gehad. En die boeke wou nie klop nie.”
Die bedryf het eers die vrywillige heffingsroete probeer, maar dinge het bly agteruitgaan. Teen 2001 het die SPT by die Nasionale Landbou Bemarkingsraad (NAMC) gaan aanklop om ’n statutêre heffing in te stel.
“Ons was een van die eerste bedrywe wat dit gedoen het. Daar was niemand voor ons by wie ons kon leer nie. Stelselmatig en met lenings teen helse rentekoerse het ons dit reggekry om strukture in plek te stel en die bedryf te organiseer. Ons moes baie balle in die lug hou, Unifruco Research Services, Die Sagtevrugteboer, Cape Span…ons het nie ’n keuse gehad nie en moes alles vernuwe.”
Dit is in hierdie omgewing waar Hortgro, Hortgro Science en die Suid-Afrikaanse Vrugtejoernaal gebore is. Hulle het ook destyds die Fresh Produce Exporters Forum (FPEF) gestig om rigting te gee aan die uitvoersektor.
“Ek wil niemand uitsonder nie, maar ons het fantastiese mense, boere en organisasies gehad wat ons ondersteun het, wat ingekoop het in hierdie vernuwing en wat gehelp het om die bedryf te stabiliseer. Ek is ook dankbaar vir my span wat die afgelope 26 jaar gehelp het, dat ons skoon ouditverslae ontvang het vir meer as 30 entiteite.”
Louis vertel dat hulle uitgawe begroting in 2001 net so oor die R12.2 miljoen was. Vanjaar se 2024/25 begroting is R133 miljoen net aan heffings.
Die syfers sê eintlik alles.
Buiten sy vernuftige syfer-ratsheid, is Louis beroemd vir sy braai talent. Hy het geen groot truuks nie. Braai is vir hom tweede natuur want dit is hoe hy grootgeword het. “Of ek nou vir vyf of 50 mense braai, dis dieselfde.”
En hy braai enigiets van vleis, tot brood tot appeltert, alles op die kole. Hy glo nie in fênsie souse, tydmetings en braaitierlantyntjies nie. “Ek braai net nie met houtskool of nonsens soos brikette nie. Net hout. Oop vlamme. Goeie vleis, sout en peper, maar ek hou elke stukkie vleis met aandag dop.”
En hy het al vir vername mense braaivleis voorgesit, soos Helen Zille, Alan Winde en top regeringsamptenare.
“Daar is iets omtrent vuurmaak…om langs ’n vuur te sit met ’n glasie wyn of ’n vuil Cokie, wat mense laat ontspan en saambind. Ek hou nie van formele goed nie. Hoe meer informeel hoe beter, want dan praat jy van mens tot mens.”
Louis en sy vrou Mariëtte is ook ervare kampeerders en beplan om nog heelwat plekke in suidelike Afrika te besoek. Die pragtige natuurfoto’s teen sy kantoormuur vertel hul eie storie. ’n Liefde vir diere en die wildernis.
En ja, hy is effe hartseer om na 26 jaar sy kantoor op te pak, maar hy sien uit na meer tyd vir homself en sy familie. En terwyl die gesondheid hou is daar nog baie reise en kampplekke waar hy wil gaan vuurmaak.
“Ek wens die volgende generasie bedryfsmense net alle sukses toe en hoop hulle sal die bedryf in stand hou en tot nuwe hoogtes neem. Ek glo so.”
Intussen is daar ’n huisie by die see (Langebaan) en viswaters wat roep.