Skip to content
Tru Cape Fruit Industry Jargon2

Appels en pere, ken jou kernvrugte!

In die vrugtebedryf, soos in alle ander bedrywe, kan jy soos ‘n bedryfskenner klink deur net ‘n paar van die regte terme te ken.
Tru-Cape se bemarkingsdirekteur, Conrad Fick, beskryf ‘n paar van die mees algemene terme.

Eerstens verwys ons na appels en pere as kernvrugte. Dit is omdat die vrugte ‘n holte of kern in die middel van die vrug het (die vyfhoekige-stervormige holte, wat die sade bevat, is as teken van heiligheid deur verskeie ou beskawings beskou). Daarteenoor bevat steenvrugte (soos perskes en pruime) net een harde pit of klip (of in Nederlands – steen), daarom steenvrugte. Appels en pere word ook as bladwisselend (blad = blare, wisselsend = soms daarsonder), beskryf. Dit beteken die bome verloor al hulle blare in die winter.

Conrad Fick
Conrad Fick van Tru-Cape.

Fick sê daar is so baie kultivars dat mense wat in die bedryf werk algemeen drie-letter afkortings gebruik om na die kultivars te verwys. So word Granny Smith afgekort na GRS, Fuji na FUJ en Golden Delicious na GDL. Hierdie afkortings maak dit makliker en vinniger om ‘n databasis, van die kultivar wat in voorraad is, te hou. Fick verduidelik ook dat vruggrootte beskryf word as die hoeveelheid vrugte van ‘n sekere grootte wat in ‘n karton sal pas (gewoonlik word ‘n karton van 18,25 kg vir appels gebruik en 12,5 kg vir pere). Ons noem dit die vrugtelling, so ‘n telling 80 of T80 beteken dat daar 80 appels in die karton sal pas. Dit is makliker om op die manier te visualiseer hoe groot ‘n vrug is, eerder as om na die vrug se deursnit of gewig te verwys.

Nog ‘n term wat algemeen gebruik word, is “programme”. Nee, dit verwys nie na jou gunsteling TV-program nie! Dit verwys na die bestellings wat Tru-Cape van supermarkte ontvang, verduidelik Fick. Een van die aspekte wat Tru-Cape onderskei, is dat ons produsente gesamentlik die grootste hoeveelheid landbougrond (gemeet in hektaar) met appels en pere besit. Dit stel Tru-Cape in staat om ‘n seisoen vooruit vir die supermarkte in Suid-Afrika en ook dié in 104 lande regoor die wêreld te voorspel watter tipe oes om te verwag. Die supermarkte stuur dan vir ons ‘n program, waar hulle vra dat ons ‘n sekere aantal vrugte van ‘n kultivar oor ‘n bepaalde tydperk aan hulle lewer. Dit beteken dat ons ‘n groot gedeelte van ons oes aan kliënte kan belowe selfs voor dit gepluk word.

Die belangrikste aspek, uit ‘n bemarkingsoogpunt, is dat ons vir 12 maande van die jaar appels aan winkels kan verskaf. Dit is moontlik deur gebruik te maak van Beheerde Atmosfeer (BA) opberging, wat die rypwording van vrugte vertraag nadat dit gepluk is. Vrugte word by lae temperature gestoor en meeste van die suurstof word uit die koelkamer verwyder waar die vrugte opgeberg word. Die kombinasie van lae temperature en lae suurstofvlakke veroorsaak dat die vrugte se rypwording baie vertraag word, amper soos ‘n beer wat tydens winter hiberneer. Wanneer die vrugte dan aan die supermarkte verskaf moet word, word hulle stelselmatig “wakker” gemaak deur die suurstofvlakke en temperatuur te verhoog. Bo en behalwe vir Beheerde Atmosfeer is daar ook Gewone Atmosfeer en Dinamiese Atmosfeer Opberging. Gewone Atmosfeer (RA) verwys na die groot koelkamers waarin vrugte opgeberg word, sonder dat die suurstofvlakke gemanipuleer word. Dinamiese Atmosfeer Opberging (DCA) behels die gebruik van die eienskappe van chlorofil wat lig weerkaats. Sodra die suurstof te laag is, verander die golflengte van die weerkaatste lig wat deur sensors opgetel word en dus kan mens die vrugte teen die laagste moontlike suurstofkonsentrasie opberg.

Fick verduidelik ook dat dit nie veel sal help om ‘n appel- of peersaad te plant nie. Die vrugte wat jou nuwe boom gaan dra sal nie dieselfde wees as die oorspronklike vrug wat jy gebruik het nie vir presies dieselfde rede dat jou kinders nie dieselfde as jy lyk nie. Om vrugtebome te kweek, wat die beste gehalte vrugte lewer, maak kwekerye gebruik van ‘n onderstam en bo-stam. Die bo-stam of ent is presies dieselfde as die moederplant. Byvoorbeeld ‘n Granny Smith wat ons nou eet is presies dieselfde appel wat deur Maria Ann Smith in 1868 in Australië gekry is. Die kultivar, word op ‘n spesifieke onderstam (wortels) geënt. ‘n Onderstam word gekies op grond van sy groeikrag, weerstand teen sekere siektes, ensovoorts.

Wanneer jy weer appels en pere koop, dink vir ‘n oomblik daaraan dat jy besig is om ‘n R10 biljoen Suid-Afrikaanse bedryf te ondersteun wat werksgeleenthede skep vir meer as 27 000 plaaswerkers en ‘n verdere 109 000 afhanklikes wat direk beïnvloed word deur die sukses van die vrugtebedryf.

Back To Top