Droëvrugte in ‘dié tyd, ‘n wonderproduk’
Die verkope van pruimedante en pruimedantsap het met die uitbreking van die COVID-19 merkbaar gestyg, sê Chris Krone, vorige president van die Internasionale Pruimedante-Vereniging (International Prune Association/IPA).
Volgens Krone wat in aanraking is met lede van dié vereniging dwarsoor die wêreld, het verkope in Amerika, Australië en Italië gestyg, terwyl verkope in Frankryk “normaal” is. “Die feit is dat verkope baie swak was voor die Covid-19 inperkinge in baie lande,” sê Krone. “Maar nou sien ons ‘n definitiewe hoër aanvraag na pruimedante en ander gedroogte vrugte. Dit is voorwaar die silwerrandjie van die pandemie se donkerwolke.”
Volgens Brandon Flynn van Sunsweet Growers Inc. in Kalifornië was daar sedert die begin van die virusepidemie ‘n toename in verkope en groter aanvraag op die kleinhandelsvlak. “Die onmiddellike data van kleinhandelaars wys ‘n beduidende jaar-tot-jaar-toename. Die uitdaging is om aan hierdie groter aanvraag te voldoen en winkelrakke vol te hou, te midde van ‘n pandemie.”
Flynn het ook daarop gewys dat personeel, wat ook volgens inperking van die huis af werk, tot dusver kon bybly met die produksievoorrade, maar dat dit ‘n probleem kan word namate “die tydlyn vir normale handel verleng word”.
Volgens Flynn hoop hy dat hierdie toename in verkope langtermynverbruikers vir die toekoms sal verseker, en dat hulle ‘n smaak vir hierdie kwaliteitprodukte ontwikkel. “Net tyd sal leer.”
Jeff Granger, uitvoerende hoof van Granger & Sons, in Australië het bevestig dat verkope veral aan hospitale en bejaarde-sorgsentrums skerp gestyg het. Modena, die grootste koöperasie in Italië, het ook berig dat verkope aan supermarkte gestyg het. Albert Levi, Modena se hoof, skryf dit daaraan toe dat verbruikers voorraad aanvul omdat droëvrugte ‘n lang raklewe het. Jean-Luc Jagueneau, die IPA-verteenwoordiger in Frankryk, noem dat verkope “normaal” is en dat hulle tans kan voorbly met lewering van produkte.
Krone meen dat dit in tye soos hierdie is dat verbruikers alle gedroogte vrugte moet oorweeg as toevoeging tot hulle aankope, weens die gesondheidswaarde daarvan. “Aankope van gedroogte vrugte met ‘n lang raklewe sal besoeke aan winkels verminder. Dit sal nie die plek van vars vrugte in die verbruikersmandjie inneem of verminder nie, maar bied waarde vir geld en is beslis ‘n gesonde alternatief tot blikkieskos en voedsel met beperkte raklewe,” sê Krone.
Lees ook oor ander gesondheidsvoordele van pruimedante: Prunes can reverse bone loss