Skip to content
Somervrugte 2

Steenvrugseisoen ‘n tuimeltreinrit

Die afgelope 2019-2020 steenvrugseisoen kan met reg as ‘n tuimeltreinrit beskou word, meen verskeie kenners.

Aan die een kant het die droogte uiteindelik in die Bergrivierstreek, insluitend Stellenbosch en Franschhoek gebreek, terwyl dit weer sommige produsente in die Klein-Karoo op hul knieë gedwing het.

Sommige kultivars het verras, terwyl ander weer teleurgestel het. En wat pesbeheer betref, kan die bedryf homself op die skouer klop vir uitstekende monitering en beheer.

Terwyl die laaste vrugte gepluk en verpak word, was die oesskatting vroeg in Januarie vir die 2019-2020 seisoen, redelik positief. In vergeleke met die vorige jaar is verwag dat nektariens 21% meer sal wees, ‘n 14% toename in perskes en ‘n 2% toename in pruimvolumes is voorspel. Die finale syfers sal binnekort beskikbaar wees. Daar word verwag dat oesgroottes en volumes van nektariens en perskes beter sal wees, met pruime wat min of meer dieselfde en appelkose minder as die vorige jaar, ten spyte van die droogte. Terwyl eetkwaliteit vir baie kultivars uit die boonste rakke was.

Charl Stander tegniese adviseur van Freshness First in Franschhoek meen produksie is weereens gyselaar gehou deur die klimaat. Die twee hittegolfperiodes in Augustus en in September het ongetwyfeld produksie beïnvloed, sê Stander.

“Die droogte wat nou reeds drie jaar duur het veral in die Klein-Karoo ‘n groot impak op produksie gehad. Die oorspoel effek van die droogte moet ook in aggeneem word, aspekte soos min grondwater, die opbou van soute in die grond wat tot verbrakking lei, en swak waterreserwes, het probleme vererger.

“Daarbenewens het ons baie sterk en vreemde windpatrone uit buitengewone windrigtings gehad. Die wind beïnvloed ook die oes negatief deurdat sommige vrugte afwaai, maar die grootste impak van die wind was op die vrugte wat ons in die pakhuise gekry het. Heelwat vrugte het windmerke op gehad, wat uitpakke negatief beïnvloed het.”

Volgens hom veroorsaak die erge windtoestande dat bome meer energie gebruik, en dit tesame met min water, het daartoe gevoer dat vruggrootte kleiner was en kartonne minder.

Wat kultivars betref, meen Stander dat Laetitias goed geset het en dat Songold beter gevaar het as wat aanvanklik verwag is. Ook Ruby Star het in veral die Bergrivierstreek beter gevaar as wat voorspel is. Die wispelturige klimaatstoestande het Angelino die ergste geaffekteer met volumes wat heelwat laer was.

Aan die positiewe kant moet produsente en die bedryf trots wees op die streng protokolle en dissipline wat aan die dag gelê is ten opsigte van fitosanitêre peste. Tot op hede is geen valskodlingmot hierdie seisoen gevind nie, terwyl net een vrugtevlieg onderskepping op ‘n lugvrag gekry is, sê hy.

Volgens Stander is minder vrugtevlieg gekry omdat daar beter gespat is as in die verlede. “Oor die algemeen is die bedryf baie pro-aktief om risiko’s te verminder en veral by koöperatiewe pakhuise is sisteme baie strenger as vantevore. Mens wil produsente gelukwens met die erns waarmee hulle moniteer terwyl omstandighede uitdagend is.”

Bergrivier-oorsig

Petru du Plessis, steenvrugprodusent en tegniese adviseur van Stellenbosch, meen die belangrikste natuurverskynsel wat ‘n invloed gehad het op pruim vrugset in die Bergrivier-area, was ‘n ontydige twee-dag hittegolf van 7 tot 8 September 2019. “Die resultaat was ‘n rekordlae vrugset, veral op kultivars wat toe in volblom was, synde Angelenos, Flavour Fall en ander.”

Aan die positiewe kant het besproeiingswater in die Bergrivier-streek na normaal teruggekeer, ná droogtetoestande van die laaste drie jaar. Wisselende resultate is behaal tussen mikro-klimate, met koeler areas soos Stellenbosch, Banhoek, Franschhoek – wat normale vrugset en oeste gehad het.

Volgens Du Plessis het byekorwe normaal gewerk, behalwe oor die hittegolf-naweek in September.  “Ons area is dus minder negatief geraak in vergelyking met die Klein-Karoo waar daar ‘n lae pruimset was. Fantastiese plukweer net na Kersfees het goeie oeste van Black Pearls en Fortunes opgelewer, met feitlik geen sonbrand en inwendige verbruining (IB) nie.”

Die hittegolf van middel Januarie het weer hittevlekke op die Laetitias (veral die groter vrugte) meegebring. Kort na dié hittegolf het sterk Suid-Oostewinde vir drie dae vrugskade op plase in en om Banhoek veroorsaak.

African Delight het geskitter met ‘n prag-oes en hoë uitpakke. Angeleno’s se vrugset was aan die lae kant, met kleiner vrugte.

Wisselkoers-skommelinge hier aan die einde van die seisoen, tesame met die COVID-19 krisis in belangrikte markte het kopkrap en innovering gekos sluit Du Plessis af.

Lees ook: Vorige steenvrugseisoen oorsig: https://www.hortgro.co.za/news/not-so-peachy/

en Tesco’s VK steenvrughandelaar van die jaar: https://www.hortgro.co.za/industry-news/tesco-takes-stone-fruit-retailer-of-the-year-award/

Back To Top