Skip to content
Sagtevrugtefynproe

Woordfees 2020: Sagtevrugtefynproe ’n ontploffing van kleur en geur

Deur Grethe Bestbier

Om appels en pere te vergelyk is selde ’n goeie idee. Om appels én pere én pruime te vergelyk, soos bewys tydens die Toyota US Woordfees 2020 se heel eerste sagtevrugteproe, kan egter lei tot ’n ontploffing van kleure en geure. Dié fynproe, aangebied deur Agri-Expo in samewerking met Hortgro, en Tru-Cape, het tientalle ou en nuwe vrugtevriende die kans gegee om die soetsuurlekkerte van die bedryf saam te geniet. Met kenners en bedryfslegendes om hulle deur die ervaring te lei.

Henk Griessel, kwaliteitsbestuurder van die uitvoermaatskappy Tru-Cape, het 13 Maart se middag afgeskop deur te gesels oor die oorsprong van appels. Hierdie skynbare eenvoudige vrug is al so oud soos die berge, met die eerste gedokumenteerde verskyning so vroeg soos die 18de Egiptiese dinastie. Oorspronklik vanuit Kazakstan se berge, is die appel oor dekades deur die sy- en ander handelsroetes versprei. Uiteindelik het die appel in die Kaap geland, kort nadat die Hollanders ‘n halfwegstasie vir verbygaande handelskepe hier gevestig het.

“Daar is al ’n verskeie soorte appels in Suid-Afrika geproduseer,” het Griessel vertel. “Die eerste appels wat aan die Kaap gepluk is, was op 17 April 1662. Dít is waar ons bedryf begin het, omtrent 350 jaar gelede.”

Oor die jare het appelkultivars baie verbeter deur mutasies en seleksie van goeie eienskappe. Dit neem egter tyd, en daar is steeds onsekerhede oor die toekoms van appels, het die “diamantdelwer van die appelbedryf”, Buks Nel verduidelik.

“In die toekoms gaan ons probeer om minder chemikalieë te gebruik. Ons gaan meer vrugte op minder hektare met beter eet-en voorkomskwaliteite produseer, en heelmoontlik ook met ander onderstamme werk. Tog word appels hoofsaaklik gekoop op grond van hoe dit lyk. So, vir watter eienskappe gaan ons teel?” het Nel, kultivar-ekspert van Tru-Cape, gevra.

Hierna, het die smaaklike deel van die dag afgeskop. Daar was drie rondtes vrugte om te proe, met appels eerste aan die beurt. Nel het die gehoor deur die vrugskyfies op hulle borde gelei: die uiters populêre Gala appel is ’n wenner onder verbruikers weens sy nie-te-soet-nie-te-suur-nie smaak; die groen Granny Smith is ‘n suur enetjie, maar ‘n fantastiese stoofappel; en die Red Delicious is weer bloedrooi en lekker soet.

Wiehann Steyn, wetenskapbestuurder by Hortgro Science, het hierna drie peerkultivars aan die gehoor voorgestel. Die bottersagte Williams Bon Chretien, die soet, sappige Doyenne du Comice en die langvormige en lekker-eet Abate Fetel.

Volgens Steyn is smaak baie persoonlik. Sommige verbruikers verkies ’n ferm peer terwyl ander van ’n sagte vlees hou. Studies toon dat omtrent die helfte van verbruikers glo dat ‘n ferm peer lekkerder smaak. Hierdie getal neem drasties af ná hulle beide sagte en harde pere geproe het. “Ná verbruikers die pere geproe het, het meeste ’n sagte, sappige, smelt-in-jou-mond peer verkies bo ‘n harde en ferm peer,” het Steyn vertel. Volgens Steyn, is ‘n peer op sy lekkerste na ‘n paar dae in die yskas, gevolg deur ‘n paar dae op die rak.

“Meeste pere het ’n koue skok nodig om die rypwordingsprosesse binne die vrug aan te skakel. Die probleem is dat verbruikers die peer koop en, nes ’n appel, dadelik wil eet. As jy dit egter reg wil eet, moet dit eers bietjie staan. Wanneer dit begin geel raak, is dit reg,” het Steyn verduidelik, wat ook sy pere soet en sappig verkies.

Laastens, was dit tyd vir nagereg, soos steenvrugboer en tegniese konsultant Petru du Plessis verwys het na die pruimproe-gedeelte van die middag. “Die hardheid en suur van die appels en pere is nou verby. Hiervandaan is dit net soet,” het hy spottend gesê.

Die eerste aantekening van pruime in Suid-Afrika dateer terug na 1656. Vandag voer ons uit na kliënte reg oor die wêreld – die Verenigde Koningkryk, Europa, die Midde- en die Verre Ooste. Volgens Du Plessis is die hele steenvrugtebedryf, wat pruime, perskes, nektariens, appelkose en kersies insluit, aan die groei en uitbrei.

“Steenvrugte is vandag smaakliker as ooit tevore, en die genetika verbeter jaarliks. Dis groot, dis vars, dis lekker,” het hy gesê, terwyl hy reuse pruim wat net so groot soos ‘n appel is in die lug gehou het.

Die kleurvolle pruimbordjie het die gehoor se pallet stroopsoet gelaat, terwyl Du Plessis elke kultivar bespreek het: die plaaslik geteelde Ruby Star, met sy rooi vel en geel vlees, is die alledaagse winkelpruim; die naamgepaste Sungold met sy goudgeel kleur, binne en buite; en die aromatiese Waatlemoenpruim (Watermelon Plum), bloedrooi met drie maal die anti-oksidante van ’n granaat.

Nes pere, moet pruime ook vir ’n paar dae in die yskas rus. Daarna kan dit by kamertemperatuur gehou word totdat dit reg is om te eet. Nog ’n wenk om ’n lekker stroperige pruim te kry, is om nie die grootste vrugte in die winkels te kies nie. Die soeter vrug, is soms die kleiner een. Elke proewer is ook voorsien met kreatiewe vrugtehappies, -drankies en geskenkpakkies.

Eunice Joubert, bemarkingsbestuurder van Agri-Expo, het gesê dit is insiggewend om te sien hoe uitgehonger die breë publiek is vir inligting oor die landbou.  Die doel van die landbouproe-reeks is om die publiek in te lig oor hoe landbou werk en kos verbou word.

Onderskrif van links: Eunice Joubert, Petru du Plessis, Buks Nel, Henk Griessel, Johan Ehlers, Wiehann Steyn.

 

 

Back To Top